Kaapstad koop sonkrag van onafhanklike produsente

Die Stad Kaapstad gaan oor die volgende 20 jaar sonkrag van onafhanklike kragprodusente aankoop.
Volgens die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sal die ooreenkoms die stad se afhanklikheid van Eskom verminder en meer bekostigbare tariewe vir inwoners verseker.
Business Tech berig dit behels twee kragkoopooreenkomste ter waarde van 70 MW, met meer wat in die komende maande sal volg ingevolge ’n mededingende tenderproses vir tot 200 MW. Die 20-jaar-ooreenkomste is met sonkragaanlegte wat aan die stad se kragnetwerk in Atlantis en Philippi gekoppel sal word.
Hill-Lewis sê daar kan nie van gesinne verwag word om eindelose Eskom-prysverhogings vir altyd te absorbeer nie.
Die twee ooreenkomste is goedkoper as Eskom, met die stad wat tussen 19% en 21% op kragaankope sal bespaar in vergelyking met huidige Eskom-tariewe.
Hill-Lewis wys daarop dat prysverhogings ingevolge die ooreenkomste aan die Verbruikersprysindeks gekoppel sal word, eerder as aan onvoorspelbare Eskom-verhogings oor die volgende 20 jaar.








Comments