MIDDAG SPORT: Die Springbokke is vasbeslote om hul foute reg te stel, Bangladesh veg terug en, Suid-Afrikaanse gholfers verdien hul plek op die PGA-toer

In rugby-nuus: Die Springbokke is vasbeslote om hul foute reg te stel wanneer hulle Saterdag in Dublin teen Ierland te staan kom.
Dit volg ná hul naelskraapse nederlaag van 21-19 teen Frankryk in Parys. Springbok-slot Ruan Nortje sê die span het te veel foute gemaak en nie hul geleenthede benut wanneer hulle binne Frankryk se 22-metergebied gekom het nie.
Volgens SA Rugby het Nortje erken daar is heelwat werk wat dié week gedoen moet word. Die Bokke het vandag met hul voorbereidings in Dublin begin. Die kragmeting teen Ierland is hul laaste groepwedstryd in die Nasieskampioenskap.
In krieket-nuus: Kagiso Rabada het met ’n vyfpaaltjie-beurt vir Suid-Afrika gesorg vir ’n sterk begin in die eerste toets teen Bangladesh by die Wanderers in Johannesburg. Die besoekers het egter ná ’n vroeë ineenstorting indrukwekkend teruggeveg.
Bangladesh was in ’n stadium 22 vir drie, voordat Towhid Hridoy met 137 lopies en Litton Das met ’n onoorwonne beurt van 92 die beurt gestabiliseer het. Die twee het ’n rekordvennootskap van 206 lopies vir die sesde paaltjie opgebou. Bangladesh het die eerste dag op 327 vir ses afgesluit.
Volgens Reuters sal die Proteas se kolfbeurt nou deurslaggewend wees om te bepaal hoe die wedstryd verder ontvou.
En, in gholf-nuus: Die Suid-Afrikaanse spelers Casey Jarvis en Jayden Schaper het albei hul PGA Tour-kaarte vir die 2027-seisoen verseker deur onder die top tien van die finale Race to Dubai-puntelys te eindig.
Die PGA Tour het die tien kwalifiseerders Sondag bekend gemaak. Die aankondiging volg ná die DP World Tour-kampioenskap in Dubai, waar Tyrrell Hatton die toernooi met vyf houe gewen het.
Rory McIlroy het tweede geëindig en vir die agtste keer die Race to Dubai-titel ingepalm – waarmee hy Colin Montgomerie se rekord ewenaar. Volgens AP is dit die vyfde agtereenvolgende seisoen waarin McIlroy dié titel verower.










Comments