'n ANC-lid sê Mangaung se onderburgemeester word beskerm
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Jul 21
- 1 min read
’n Dekades-lange Vrystaatse ANC-lid beskuldig die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) daarvan dat hy die onderburgemeester van die Mangaung-metro beskerm.
Thabang Motloung van Botshabelo sê die provinsiale leiers is in dieselfde faksie as die onderburgemeester, Lulama Titi-Odili, en daarom stilswyend oor haar man, Lyndon Odili, se inhegtenisneming in verband met die verberging van onwettige immigrante.
Motloung het aan Netwerk24 gesê sou dit iemand uit ’n ander faksie was, het die PUK lankal amptelik standpunt ingeneem, en die persoon sou opdrag gekry het om opsy te staan. Motloung sê hy praat as gewone lid van die ANC en nie namens die tak nie, en hy wil nie ’n politieke ampsbekleër word nie.
ANC-woordvoerder in die Vrystaat, Thabo Meeko, sê die party volg streng riglyne en Motloung is nie vertroud met dié prosesse nie. Hy sê dis nie die onderburgemeester wat in hegtenis geneem is nie, maar haar man, en sy kan nie gestraf word weens iets wat iemand naby aan haar na bewering gedoen het nie.
Rosestad-nuus het vroeër berig Lyndon Odili, ’n Nigeriese burger wat glo verskeie sakeondernemings in Bloemfontein bedryf, is op 30 Junie in hegtenis geneem nadat hy glo tot 29 onwettige immigrante by sy gastehuis, Tripple D, in Noordhoek laat skuil het. Hy is op borgtog vrygelaat en verskyn weer op 30 Julie in die landdroshof in Bloemfontein.








Comments