'n Boer se hond is tydens 'n aanval geskiet
- Saamgestel deur Ilde Roos

- 2 hours ago
- 1 min read
'n Boer van Senekal in die Vrystaat se hond is doodgeskiet, die trekker se bande stukkend geskiet en pap gemaak, en sy hooi aan die brand gesteek. Polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Mmako Mophiring, sê in 'n verklaring dit kom nadat die boer minute vantevore vanuit sy plaaswerkswinkel 'n bakkie gesien verby ry het en skote gehoor het.
Die boer het die voertuig agternagesit. Tydens die agtervolging het die verdagte na bewering drie keer teen die boer se bakkiedeur vasgery. Die boer is nie tydens die voorval beseer nie. Met sy terugkeer na die plaas het die klaer die skade ontdek.
Verdere bewerings dui daarop dat die verdagte die klaer via ’n WhatsApp-boodskap in November 2025 gedreig het, en glo gewaarsku het dat hy hom sou doodmaak ná ’n dispuut oor skape wat ingevolge ’n hofbevel verwyder is.
Die Senekal-polisie het twee verdagtes in hegtenis geneem en vier vuurwapens gekonfiskeer. Dit sal aan ballistiese ontleding onderwerp word.
Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die Senekal-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord, kwaadwillige saakbeskadiging en dieremishandeling.








Comments