‘n Hoopstad-gesin bedrieg glo ‘n dieseldepot uit honderdduisende rand

‘n Vrystaatse ouerpaar en hul seuns word daarvan beskuldig dat hulle ’n dieselonderneming in Hoopstad in die Vrystaat uit honderdduisende rand bedrieg het.
Netwerk24 berig Pieter Smit, sy vrou, Elizabeth, en hul twee seuns, Marnu en Estean, is elk op borgtog van R5 000 vrygelaat nadat hulle Maandag in hegtenis geneem is.
Die staat beweer hulle het tussen 2017 en 2022 'n onderneming wat diesel aan boere verskaf uit R940 000 bedrieg.
Die Valke se woordvoerder, adjudant-offissier Fikiswa Matoti, sê die klaer in die saak het die dieseldepot gekoop en die bestuur daarvan aan Pieter Smit toevertrou aangesien hy met die sakebedrywighede vertroud was. Die klaer het gereeld besoek afgelê aan die onderneming om hom van sake te vergewis.
Nadat die klaer ’n afname in wins opgemerk het, is ’n ondersoek gedoen en is verdagte transaksies ontdek waarin kliënte se name gebruik is, maar betalings na bankrekeninge herlei is wat nie aan die onderskeie kliënte behoort nie. Verskeie kliënte het ook aangemeld dat hulle vir dieselbestellings betaal het, maar dat die diesel nooit afgelewer is nie.
Die egpaar en hul seuns moet weer op 16 September in die hof verskyn.








Comments