'n Voormalige vroedvrou wil die tyd voor haar vonnisoplegging by familie wees
- Saamgestel deur Ilde Roos

- 1 hour ago
- 1 min read
Die voormalige vroedvrou Yolandé Maritz-Fouchee, wat op 14 aanklagte voortspruitend uit haar dae as vroedvrou skuldig bevind is, wil die rukkie voordat sy gevonnis word, by haar geliefdes wees. Sy wil veral by haar man, Paul Fouchee, wees om hom te help. Hy het glo ’n rugbesering opgedoen en sukkel met stort en skeer.
Netwerk24 berig regter Papi Mosopa het egter Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria haar borgtogaansoek geweier. Die hof het gehoor Paul was die kere wat hy Maritz-Fouchee by die hof ondersteun het, mobiel en het sonder hulp rondbeweeg.
Paul is nou weens die besering ná maande terug by sy werk as voertuigbestuurder. Mosopa sê karbestuur vereis sekere fyn vaardighede, en Paul kry homself by die hof. Daar is ook geen mediese rekords oor sy toestand tans nie. Die hof is nie ingelig oor familielede of kinders wat kan help om hom te versorg nie, en Mosopa kan nie verstaan hoekom Paul nie na sy eie higiëne kan omsien nie.
Intussen is die feit dat Maritz-Fouchee in 2025 ’n nuwe paspoort bekom het, bevraagteken. Die hof het gehoor sy sê dit is omdat sy en haar man vir sendingwerk na Europa wou reis, terwyl sy weet daar is ’n verhoor teen haar. Mosopa het bevind die beskuldigde is na die hof se mening ’n vlugrisiko, veral met vonnisverrigtinge wat oor ’n maand volg.
Die beskuldigde het nie buitengewone en dwingende omstandighede bewys hoekom sy geregtig is op borgtog nie.








Comments