OGGEND SPORT: SA Rugby vra vir ‘n dringende verhoor ná Rassie se skorsing, die Proteas verloor momentum en, Nortje mik vir ‘n terugkeer

Ons begin met rugby: SA Rugby het ’n dringende, volledige dissiplinêre verhoor by Wêreldrugby aangevra ná Springbok-afrigter Rassie Erasmus met onmiddellike effek vir ses internasionale wedstryde geskors is.
Die onafhanklike paneel het Erasmus se opmerkings oor wedstrydbeamptes tydens ’n mediakonferensie in Dublin Maandag as ernstige wangedrag beskou. Hy het onder meer bevraagteken waarom verskeie beweerde knieval-duikslae deur Franse spelers tydens die Springbokke se nederlaag teen Frankryk nie deur die televisie-wedstrydbeampte aangespreek is nie.
LUISTER HIER:
Volgens EWN is die skorsing ingevolge Wêreldrugby se nuwe proses vir die hantering van openbare kritiek op wedstrydbeamptes opgelê.
SA Rugby wil hê Erasmus moet die geleentheid kry om die konteks van sy opmerkings tydens ’n volledige verhoor te verduidelik.
In krieket-nuus: Suid-Afrika het 'n moeilike einde aan die derde dag van die eerste toetswedstryd teen Bangladesh op die Wanderers beleef, na hulle drie paaltjies vir slegs 15 lopies verloor het, nadat kaptein, Temba Bavuma, weens 'n kuitbesering die veld moes verlaat.
Die Proteas het teen die einde van die dag op 386-7 gestaan, steeds 14 lopies agter Bangladesj se eerstebeurt-totaal van 400, terwyl Ryan Rickelton onoorwonne op 56 was, met Kagiso Rabada op vyf.
Bangladesh se paaltjiewagter, Litton Das, het geskiedenis gemaak deur die derde speler in toetskrieket te word wat 'n honderdtal aanteken en ses vangskote in dieselfde beurt neem.
Donderstorms, swaar reën en hael het uiteindelik tot 'n vroeë einde van die dag se spel gebring, terwyl Rickelton glo dat Suid-Afrika die agterstand van 14 lopies in 'n stewige voorsprong kan omskep op die vierde dag.
En, in sewesrugby-nuus: Die Springbok-sewesvleuel, Quewin Nortje, is vasbeslote om gekies te word vir die eerste twee HSBC SVNS-toernooie in Dubai en Kaapstad, nadat hy verlede seisoen weens 'n besering al ses toernooie in die reeks misgeloop het.
Die 23-jarige het betyds herstel om die Blitzbokke te help om die toernooie in Hongkong, Valladolid en Bordeaux te wen, wat vir hulle 'n tweede opeenvolgende wêreldtitel verseker het.
Nortje is nou ten volle fiks ná 'n deeglike voorseisoen en hoop om aan al ses toernooie hierdie seisoen deel te neem veral in Kaapstad, waar Suid-Afrika vir 'n derde agtereenvolgende titel sal mik.
Afrigter, Philip Snyman, sal Vrydag sy groep van 13 spelers vir Dubai aankondig.










Comments