Onderbefondsing van Weermag plaas soldate in gevaar

Die vakbond Saftu waarsku dat jare se onderbefondsing die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se vermoë om sy operasionele pligte uit te voer, ernstig verswak het.
Volgens inligting wat aan die Parlement voorgelê is, word sowat 70 persent van die land se verdedigingsbegroting aan salarisse bestee. Dit laat volgens Saftu te min geld oor vir die aankoop en instandhouding van toerusting, asook vir voldoende opleiding en operasionele gereedheid.
Die vakbond sê die dood van 14 Suid-Afrikaanse soldate in die Demokratiese Republiek van die Kongo het die uitdagings waarmee die weermag te kampe het, opnuut beklemtoon.
Saftu doen ’n beroep op die regering om verdedigingsbefondsing te verhoog en groter aandag aan die instandhouding en modernisering van die weermag te gee.
Die vakbond vra ook vir sterker aanspreeklikheid binne die verdedigingssektor en ’n daadwerklike poging om Suid-Afrika se verdedigingsbedryf weer op te bou.








Comments