Peet Viljoen se saak bly op die rol

Die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria het Vrydag Peet Viljoen se aansoek dat die saak van die rol verwyder word, van die hand gewys.
Landdros Nica Setshogoe het in haar uitspraak oor dié aansoek gesê daar is geen gronde om die saak nou van die rol te verwyder nie. Netwerk24 berig dit is nadat die dossier reeds aan die verdediging blootgelê is en terwyl die hof nog besig is om voorlopige kwessies in aanloop tot die verhoor af te handel.
Die staat se advokaat Willem van Zyl sê hulle beoog om Viljoen se medebeskuldigdes eersdaags te dagvaar of, indien nodig, in hegtenis te neem sodat hulle saam met hom in die hof kan verskyn. Hy sê hy is volkome van voorneme om elke persoon hierby betrokke te vervolg.
Van Zyl het kapsie gemaak teen die bewering dat die staat niks in twee en ’n half jaar gedoen het nie.
Setshogoe het die staat se aansoek om die saak uit te stel toegestaan om beloofde dokumente te bekom en binne die volgende twee maande die ander beskuldigdes by te voeg.
Sy het op 17 Augustus Viljoen se aansoek om borgtog van die hand gewys, hoofsaaklik op grond daarvan dat hy as ’n vlugrisiko beskou word en moontlik met getuies kan inmeng of hulle kan intimideer.








Comments