Roelf Meyer is die nuwe ambassadeur in Amerika
- Saamgestel deur Ilde Roos

- 2 hours ago
- 2 min read
Die veteraan- politieke onderhandelaar Roelf Meyer is as die volgende ambassadeur in Amerika aangewys.
Netwerk24 berig president Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, het die aanstelling gisteraand bevestig. Magwenya wou geen verdere inligting daaroor bekend maak “voordat al die nodige formaliteite afgehandel is nie”.
Meyer se vrou, Michèle, het namens hom telefonies gesê hulle is nie by magte om nou kommentaar te lewer nie.
Rosestad-nuus se Ilde Roos verduidelik verder Netwerk24 berig die keuse van Meyer, wat ’n kernfiguur was in die onderhandelinge wat apartheid beëindig het, is ’n duidelike teken dat Suid-Afrika ’n veteraanonderhandelaar na Washington stuur om die gebroke betrekkinge met Amerika te herstel.
LUISTER HIER:
TRANSKRIPSIE:
Meyer het in die vroeë 1990’s saam met Ramaphosa namens onderskeidelik die destydse Nasionale Party en die ANC onderhandel. Die betrekkinge tussen Suid-Afrika en Amerika het drasties verswak nadat president Donald Trump verlede jaar ’n uitvoerende bevel uitgereik het waarin hy onder meer alle finansiële hulp aan Suid-Afrika staak, asook vlugtelingskap aan minderheidsgroepe bied. Trump is glo ontevrede met Suid-Afrika se buitelandse beleid, grondonteiening sonder vergoeding en betrekkinge met terreurlande en -organisasies soos Iran en Hamas.
Intussen berig Maroela Media dat ander politieke partye nie gelukkig is oor die aanstelling nie.
LUISTER HIER:
TRANSKRIPSIE:
Die uitvoerende hoof van Solidariteit, Dirk Hermann, meen die keuse is teleurstellend en dat Meyer se aanstelling geen vertroue onder gewone Afrikaners gaan inboesem nie. Hy sê Meyer is ’n afgetrede politikus uit ’n vorige bedeling, en bestempel dit as nog 'n fout van die Suid-Afrikaanse regering. Die leier van die VF Plus, Corné Mulder, is óók nie beïndruk nie. Hy sê Meyer se geloofwaardigheid is, om die minste te sê, ernstig problematies. Die uitvoerende hoof van Saai, Theo de Jager, sê boere weet nie wat Meyer se standpunte oor kritiese landboukwessies is nie, omdat Meyer hom nog nooit oor dié kwessies uitgespreek het nie. Hy sê die meeste boere hoop dat Meyer in sy nuwe amp die breër belange van Suid Afrika voorop sal stel, en nié die standpunte van Fikile Mbalula daaroor sal eggo nie.
Meyer, wat as minister van grondwetlike sake in die apartheidsera gedien het, vervang Ebrahim Rasool, wat in Maart verlede jaar deur Amerika tot persona non grata verklaar is. Hy is uit Amerika geskop nadat hy volgens 'n berig in Bloomberg Trump se ondersteuners as deel van ’n “beweging vir wit heerskappy” beskryf het.
Meyer se aanstelling kom ook nadat Ramaphosa verlede week die geloofsbriewe aanvaar het van die nuut aangestelde Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell III, wat ’n potensiële herstel in diplomatieke betrekkinge tussen die twee lande aandui.








Comments