Solidariteit bevraagteken Ramaphosa se uitlatings dat die NGV voortgaan
- Saamgestel deur Ilde Roos

- 2 hours ago
- 1 min read
President Cyril Ramaphosa se opmerkings tydens Donderdag se parlementêre antwoordsessie oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) skep die indruk dat die inwerkingstelling daarvan voortgaan.
Ekonomiese navorser van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI), Theuns du Buisson, sê egter die Pretoriase hooggeregshof het onlangs beslis die regering mag geen verdere inwerkingstellings of ontwikkelingsstappe met betrekking tot die NGV doen totdat die Konstitusionele Hof uitspraak gelewer het in ʼn hangende saak daaroor nie.
Maroela Media berig Ramaphosa het onder meer gesê die regering gaan voort met die voorbereiding vir die inwerkingstelling van die NGV en dat verskeie stelsels reeds geskep word.
Du Buisson sê Solidariteit sal Ramaphosa se uitlatings noukeurig bestudeer om te bepaal of sodanige stappe moontlik ʼn oortreding van die hofbevel kan wees. Hy sê die president probeer die indruk skep dat die NGV reeds momentum het en dat inwerkingstelling onafwendbaar is, maar dit is eenvoudig nie die geval nie.






Comments