Tjokkertoneelspelers deel hul liefde vir die verhoog met Bfn gehore
- Saamgestel deur Ilde Roos

- 1 day ago
- 1 min read
Die Bloemfontein-streeksfees van die sesde ATKV-Tjokkertoneel het onlangs die Wynand Mouton-teater by die Universiteit van die Vrystaat laat gons. Altesaam 282 tjokkers het in 10 produksies hul stories, verbeelding en liefde vir die verhoog met gehore gedeel.
Volgens die ATKV se webtuiste vorm die Bloemfontein-fees deel van ’n nasionale seisoen waarin 1 325 tjokkers in 60 produksies regoor Suid-Afrika die kans kry om hul eerste – of volgende – tree as jong teatermakers te gee.
Die Bloemfontein-produksies is vanjaar begelei deur mentorbeoordelaars Marijda Kamper en Karli Heine. As deel van die ontwikkelingsfokus van ATKV-Tjokkertoneel ontvang elke produksie pasgemaakte stemnotas waarin die mentors terugvoer, aanmoediging en praktiese leiding deel. Dit gee deelnemers en onderwysers die geleentheid om ná die fees verder oor hul werk te gesels, nuwe idees te ondersoek en op die ervaring voort te bou.
Stephan van Rensburg van die Bloemhof Gekombineerde Skool is as beste tjokkerakteur aangewys, Nina Swanepoel van die Zastron Gekombineerde Skool as beste tjokkeraktrise, en die produksie Kers-kaskenades, ook van die Zastron Gekombineerde Skool, is as beste produksie bekroon.








Comments