Verwarring heers oor opknappingsgeld by die Glen-landboukollege

Byna R6,3 miljoen is luidens ’n vorige parlementêre antwoord aan opknappings by die Glen-landboukollege bestee, maar die Vrystaatse Departement van Landbou sê nou dié bedrag was nie spesifiek vir die opknapping van die kollege se koshuise nie.
Netwerk24 het navrae gedoen nadat foto’s van die toestand van dele van Glen se infrastruktuur op sosiale media versprei is. Die departement sê hy is nie bewus daarvan dat die bedrag wat op sosiale media aangehaal word spesifiek aan koshuisopknappings toegewys of bestee is nie.
Volgens die departement is instandhoudingswerk wel aan die studentekoshuise en ander geriewe gedoen, onder meer aan loodgieterswerk, elektriese foute en algemene bouwerk.
Rosestad-nuus se Ilde Roos verduidelik verder die departement sê Glen se infrastruktuur is meer as 100 jaar oud en kan nie alles tegelykertyd opgeknap word nie.
LUISTER HIER:
TRANSKRIPSIE:
In die badkamers was daar verstopte storte, muf, toilette wat nie gebruik kon word nie en onvoltooide opknappingswerk. ’n Lekkende kraan het steeds geloop. Nuwe nywerheidstoerusting, waaronder oonde, stowe en yskaste, het intussen in die sentrale kombuis in plastiekverpakking gestaan. Die departement sê dié toerusting is reeds afgelewer, maar kan nie geïnstalleer word voordat die bestaande verouderde elektriese infrastruktuur opgegradeer is nie.
Die Glen-kollege bestempel ook die bewerings wat op sosiale media versprei word as vals en misleidend, en waarsku dat foto’s sonder konteks ’n verkeerde indruk van studente se verblyf kan skep.








Comments