Die hof beveel Liebenberg moet wel psigiatries waargeneem word
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Feb 12
- 1 min read
Updated: Feb 17
Die Pretoriase hooggeregshof het elektronies beslis dat die berugte diamanthandelaar Louis Liebenberg se aansoek om nié vir waarneming gestuur te word nie van die rol geskrap moet word.
Maroela Media berig Liebenberg het verlede week ʼn dringende aansoek hieroor ingedien. Die regter het bevind dit is belangrik dat daar nié met die huidige landdros, wat die voorsittende beampte in sy hangende borgtogaansoek in die Bronkhorstspruit-landdroshof is, se beslissing ingemeng word nie.
Rosestad-nuus se Riaan Schoeman verduidelik verder die regter het bevind dat Liebenberg se regspan, wat nie kenners van geestestoestande is nie, nie in ʼn posisie is om die landdros te kritiseer nie.
LUISTER:
TRANSKRIPSIE:
Die regter sê die bepalings van die wet is duidelik en verleen aan die voorsittende beampte die magte om hul diskresionêre gesag uit te oefen en te vra dat psigiatriese waarneming geskied. Dié magte word uitsluitlik aan die voorsittende beampte gegee om die besluit te neem. Hy voeg by selfs nie hierdie hof is vry om in te meng met die diskresie van die voorsittende landdros nie. Die landdros het binne die magte van die wet opgetree en haar besluit was rasioneel, wettig en daarop gemik om Liebenberg se regte tot ʼn regverdige verhoor te beskerm.
Liebenberg voer aan daar skort niks met hom nie, en het sterk gesteun op ʼn verslag van ʼn distriksgeneesheer wat bevind het hy is geestelik gesond om hofverrigtinge te volg.







Comments