'n Sloot in die pad eis 'n voertuig
- Saamgestel deur Ilde Roos

- 2 hours ago
- 1 min read
'n Voertuig het in 'n sloot in Ladybrand in die Vrystaat beland nadat die pad daar oopgegrawe is, na bewering om 'n gebarste pyp reg te maak.
Maluti berig waarskuwingslint was aanvanklik by die toneel aangebring, maar inwoners sê dit is reeds verwyder. Daar was ook glo geen waarskuwingstekens opgerig nie.
Die bestuurder van die voertuig is na bewering aangemoedig om 'n saak teen die munisipaliteit te open.
Gemeenskapslede is gefrustreerd oor wat hulle beskryf as die volgehoue verslegting van munisipale infrastruktuur en 'n tekort aan verantwoordbaarheid van die plaaslike munisipaliteit.
Rosestad-nuus se Ilde Roos verduidelik verder dat hierdie roete daagliks deur die munisipaliteit se eie diensdepartement gebruik word.
LUISTER:
TRANSKRIPSIE:
Die inwoners vra nou waarom die gevaarlike padtoestande dus nie onmiddellik aangespreek is nie, ten spyte daarvan dat dit duidelik en alombekend is. Inwoners voel belastingbetalers word weereens geforseer om die gevolge van swak dienslewering en onvoldoende instandhouding van infrastruktuur te dra. Baie waarsku dat as dit so aanhou, kan dit negatiewe gevolge vir gefrustreerde belastingbetalers inhou, wat toenemend moeg word vir leë beloftes en openbare infrastruktuur wat agteruitgaan.
Netwerk24 berig die munisipale bestuurder, Matiro Mogopodi, het nie op navrae gereageer nie.







Comments