NSFAS: Die studentevakbond vra ingryping oor uitbetalings aan oorledenes
- Saamgestel deur Ilde Roos

- Mar 31
- 2 min read
Die studentevakbond Saus vra dringende ingryping by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) ná die ouditeur-generaal (OG) bevind het 822 mense ontvang ná hul dood steeds befondsing van die skema. Die OG-verslag toon boonop duisende mense wat nie vir die befondsing gekwalifiseer het nie, het ook betalings ontvang.
Maroela Media berig die woordvoerder vir Saus, Thato Masekoa, sê meer as 100 000 studente is onseker oor hul finansiële toekoms omdat NSFAS se geld opdroog. Hy sê NSFAS bestaan sodat arm en werkersklasstudente toegang tot hoër onderwys kan hê, en die afwyking of wantoewysing van dié fondse bring dié doelwit in gedrang en versterk ongelykheid.
Op ʼn tydstip wanneer duisende verdienstelike studente uitgesluit word, van finansiering ontneem word of in langdurige onsekerheid oor hul befondsingstatus verkeer, is sulke wanbestuur onaanvaarbaar en uiters onbillik.
Rosestad-nuus se Ilde Roos verduidelik verder Saus sê hy neem kennis van die rol wat die waarnemende uitvoerende hoof van NSFAS, Waseem Carrim, speel in die pogings om die kwessie oor die afgelope maande te stabiliseer.
LUISTER HIER:
TRANSKRIPSIE:
Hy sê hierdie pogings moet ondersteun en bespoedig word om betekenisvolle en langdurige hervorming te verseker. Saus vra dat verifikasiestelsels versterk word deur integrasie met regeringsdatabasisse soos dié van die departement van binnelandse sake en die inkomstediens ten einde teenstrydighede in identiteit en inkomstestatus te voorkom. Hulle vra ook vir ʼn omvattende forensiese ondersoek om onreëlmatige uitbetalings op te spoor en, waar nodig, verantwoordbaarheid te verseker.
Rosestad-nuus het vroeër berig die OG, Tsakani Maluleke, het vir die 2024-'25 boekjaar Nsfas die ergste moontlik ouditverslag gegee, naamlik die weiering van ʼn ouditmening, weens bevindinge dat die skema steeds toelaes aan oorlede studente betaal.








Comments