Drie verdagtes is vas oor vermoedelik gesteelde koperkabel in Kroonstad
- Saamgestel deur Armando Pieters

- 6 hours ago
- 1 min read
Drie mans tussen die ouderdomme van 40 en 41 sal na verwagting binnekort in die Kroonstad-landdroshof verskyn nadat hulle in hegtenis geneem is vir die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Volgens die polisie is inligting Vrydagoggend ontvang oor 'n wit Mazda wat van Steynsrus na Kroonstad onderweg was om koperkabel te verkoop. 'n Taktiese operasie is daarop van stapel gestuur, waarna beamptes die voertuig met drie insittendes onderskep het.
Met die deursoeking van die voertuig is 41 kilogram koperkabel met 'n geraamde waarde van sowat R7 800 gevind en gekonfiskeer. Die kabel word vermoedelik met infrastruktuurverwante misdaad verbind.
Die verdagtes staan tereg op aanklagte van die peutering met, beskadiging of vernietiging van noodsaaklike infrastruktuur, asook die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Polisie in die Vrystaat sê die ondersoek duur voort en waarsku dat infrastruktuurmisdaad steeds 'n ernstige bedreiging vir dienslewering en ekonomiese aktiwiteit in die provinsie inhou.








Comments